Is jy insulienweerstandig?

deur Sonelle van der Linde

Hoe weet 'n mens dat jy insulienweerstandig is en wat beteken dit nou einklik?

Insulienweerstandigheid is die woord op almal se lippe. TV- en radio-advertensies prikkel ons om te wonder of ons nie dalk hieraan ly nie en bied dan ewe gemaklik die "wonderkuur" hiervoor. Insulienweerstandigheid staan ook bekend as pre-diabetes. Insulien is 'n hormoon, wat deur die pankreas afgeskei word, in die bloed sodra bloedsuiker styg. Bloedsuiker styg wanneer jy iets eet of drink wat koolhidrate bevat. Die funksie van insulien is om bloedsuiker te verlaag na normaal, deur oortollige bloedsuiker te onttrek na die res van die liggaam bv. na spiere, waar suiker gebruik word vir energie, die lewer waar suiker gestoor word en alle verdere (oortollige) suiker word omgesit in vet en in dié vorm gestoor.

'n Goeie illustrasie om hierdie stelsel te verstaan is 'n sleutel en 'n slot. Bloedvate het klomp "slotte" wat oopgesluit word sodat suiker kan uit beweeg na die spiere. Die sleutels vir hierdie "slotte" is insulien. Die probleem met insulienweerstandigheid lê nie by die "sleutels" (soos in die geval van diabetes nie) maar by die "slotte", die "slotte" is verroes. Genoeg insulien word afgeskei maar is oneffektief. Die insulienproduksie sal later verminder soos die pankreas uitgeput raak en dan word jy gediagnoseer met Tipe-2 Diabetes Mellitus.

Die rede waarom insulienweerstandigheid soveel aandag geniet, is omdat mense wat insulienweerstandig is, geweldig sukkel om gewig te verloor. Maatskappye wat 'n maklike oplossing bied vir gewigsverlies, doen altyd goed! Dit is net jammer dat die groter prentjie gemis word. Maatskappye lig 'n mens in dat die produk mag help om beheer oor jou gewig te kry, maar noem nie dat jy 'n kans het om diabetes te kry as jou insulienweerstandigheid nie deur 'n dokter én dieetkundige behandel word nie.

Persone wat op die uitkyk vir insulienweerstandigheid moet wees is: dié wat oorgewig is en sukkel om gewig te verloor, 'n middelomtrek het van meer as 88cm in vroue en 102cm in mans. 'n Onaktiewe leefstyl, ongesonde eetgewoontes en hoë stresvlakke wat met min slaap gepaard gaan. Asook 'n familiegeskiedenis van diabetes. Moet glad nie kinders hier uitsluit nie, kindertjies van so jonk as 4-jaar mag hieraan ly.

Nog kenmerke van insulienweerstandigheid sluit in: 'n bruin rif in die nek, oormatige moesies, muistepels en haargroei in die gesig en nek asook vroue wat sukkel om swanger te raak. Onthou egter dat al die bogenoemde slegs aanwysers of kenmerke is en al het jy ál die tekens, kan jy steeds nie aanneem dat jy insulienweerstandig is nie. Praat met jou huisdokter of 'n dieetkundige om die nodige bloedtoetse te laat doen. Voorskrifmedikasie kan geneem word, maar die beste behandeling sluit onder andere 'n gespesialiseerde dieet en oefening daarmee saam in.

Behandelde insulienweerstandigheid is omkeerbaar en geneeslik, maar diabetes is ongelukkig nie. Maak jou gesondheid vandag 'n prioriteit, terwyl jy nog kan!

Vir meer inligting skakel gerus vir Sonelle van der Linde by 076 338 5367, stuur 'n epos na sonellev@gmail.com of besoek die webwerf www.bfndietician.co.za.

Contact Person:


Sonelle van der Linde
69 Morningside
1 Isak de Villiers Street
Langenhovenpark
Bloemfontein
South Africa

Contact Details:


Cell: 076 3385367
or
Send me an